Klein plattelandse gemeentes as ruimtes om brûe na die hele gemeenskap te bou
Abstract
Schoeman, K and Van Schalkwyk, C (2013), Klein plattelandse gemeentes as ruimtes om brûe na die hele gemeenskap te bou: ’n Prakties-teologiese ondersoek (Small rural congregations as spaces where bridges can be built to the rest of the community: A practical-theological inquiry), Litnet Akademies, vol. 10, no. 3.
Opsomming
Klein plattelandse dorpies bestaan gewoonlik uit verskillende gemeenskappe wat nie noodwendig veel van mekaar weet nie. Gewoonlik is dit politieke, sosio-ekonomiese en rasseverdelings wat tot hierdie skeidslyne aanleiding gee. Die politieke mag is aan die een kant van die dorp en die ekonomiese mag aan die ander kant. Geloofsgemeenskappe is aan beide kante van hierdie verdeling te vind. Die doel van hierdie artikel is om die moontlikhede te verken om brûe tussen die twee “aparte” gemeenskappe te bou deur gebruik te maak van die geestelike en sosiale kapitaal wat binne klein gemeentes op die platteland beskikbaar is. Die fokus val veral op ’n studie wat in die Suid-Vrystaat gedoen is. In ’n ondersoek wat in die ring van Fauresmith onder NG gemeentes onderneem is, is ’n semigestruktureerde vraelys aan predikante van die agt gemeentes in die ring gestuur. Uit die reaksies van die predikante is dit duidelik dat daar, soos hulle die saak sien, oor die afgelope vyf jaar wesenlike veranderings in die gemeentes en gemeenskap plaasgevind het. Verder word ook aan ’n gevallestudie wat in die gemeenskap van Philippolis onderneem is, aandag gegee. Die hantering en reaksie van die gemeenskap op die Vigs-epidemie word bespreek. In Philippolis se geval was daar nie sprake van die politieke wil, ekonomiese krag of ’n betekenisvolle aantal persone om die MIV/Vigs-epidemie te hanteer nie. Almal was lamgelê, maar die kerk het die draer van hoop geword. Die gevallestudie dui ’n weg aan om die krisis te hanteer en die gemeenskap te help om nuwe waardes en praktyke te vorm. Die beskikbare geestelike kapitaal in die geloofsgemeenskappe het die taal en praktyke help skep om nuwe moontlikhede oop te maak.